DOZI & NIANELL
Dozi
& Nianell volg sukses van Duette op met die nuutste vrystelling 'Take 2 - You're the one that I want'
Dozi en Nianell span saam vir tweede sexy duet-album Dit mag
dalk soos 'n ongewone kombinasie klink, maar Dozi en Nianell se eerste
duet-album het die asem weggeslaan, en nou maak hul weer so met 'n
opvolg-album propvol treffers. Die CD is in November 2010
vrygestel en daar is ook 'n DVD wat volg vroeg in 2011. Vir meer
inligting oor hierdie fantastiese kunstenaars se Duet-optrede, kontak
gerus vir louis@musicprofile.co.za of skakel 012 991 4102. "Ek is baie opgewonde," sê Dozi. "Toe ons oor die projek begin praat het, was ek nie seker of dit gaan werk nie. Maar dit werk uitstekend. Wie sou kon raai? Ek en Nia is immers twee totaal verskillende kunstenaars." Nianell beskryf die kombinasie as die perfekte vermenging van koffie en room. "Dit werk eenvoudig net," sê sy. "Ons stemme komplimenteer mekaar en omdat ons soveel pret in die opname-ateljee gehad het, gee dit nuwe lewe aan liedjies wat musiekliefhebbers al jare lank ken."
Dozi en Nianell het ander kante van hul sangtalente leer ken met die maak van die album. Dozi het 'n besef sy stem het meer fasette as wat hy van geweet het. "Ek het daarvan gehou om die meer sensuele kant van my stem te gebruik op 'n liedjie soos Makin' Whoopee en ek het dit baie geniet om die jazz-liedjies te sing. Ek hoop hierdie album gaan aan mense 'n ander kant van my as kunstenaar wys." Nianell het ook 'n nuwe paadjie gestap en vir haar was dit 'n vreugde om iemand anders se liedjies te neem en dit haar eie te maak.
"Mense ken my vir die liedjies wat ek self skryf en ek het nog altyd doelbewys weggebly van ander mense se bekende liedjies. Ek sing nie covers nie. Maar hierdie projek was 'n openbaring en soveel pret. Om in verskillende style te sing en jou eie stempel op 'n bekende liedjie af te druk, was ongelooflik," sê sy. Daar is groot wedersydse respek tussen Nianell en Dozi en dit kan duidelik op die album gehoor word. "Dozi is 'n ongelooflike kunstenaar met 'n baie, baie groot stem. Dit was 'n plesier om saam met hom in die ateljee te wees. Ook om myself as 'n sexy jazz-sanger te sien. Dit was nuut en anders en 'n heerlike ondervinding!"
"Sy is ongelooflik," sê Dozi oor sy sangmaat. Hulle beplan nou 'n reeks vertonings wat die volle ervaring - wat kostuums, musiek en dans sal insluit - na mense sal bring. "Dit is vir ons altwee 'n uitdaging, maar ons wil dit doen. Die musiek op die album leen hom tot 'n teatrale belewenis," sê Nianell. "Ons wil regtig hierdie liedjies na gehore, álle gehore, neem. En natuurlik hou ek en Dozi altwee daarvan om voor gehore op te tree. Dit gaan 'n belewenis wees!"
|